
Volgens kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, is mnr. Matthys Michiel Pienaar (35) op Donderdag 30 Junie in hegtenis geneem nadat die Ngaka Moditi Molema-veediefstaltaakspan ’n ondersoek by dié veiling onderneem het om te verseker dat die Wet op die Identifikasie van Diere (Wet 6 van 2002) nagekom word.
Pienaar het glo aggressief opgetree toe die polisie hom oor vyf van sy beeste, wat vermoedelik nie gebrandmerk was nie, begin ondervra. Volgens Myburgh het hy ’n vuurwapen op die polisie gerig voor hy in sy voertuig van die toneel probeer vlug het. Die polisie het hom agternagesit, oorweldig, ontwapen en in hegtenis geneem.
Pienaar het op Vrydag 1 Julie in die Molopo-landdroshof verskyn op aanklagte van die rig van ’n vuurwapen, crimen injuria, intimidasie en verset teen inhegtenisneming. Hy is op borgtog van R1 000 vrygelaat. Die verhoor is tot Donderdag 4 Augustus uitgestel.