
’n 69-Jarige boer het vroeg Maandagoggend voor sy seun gesterf nadat hy deur vier rowers binne-in sy eie huis in die maag geskiet is. Mnr. Malcolm Green, die oorledene, het op die plaas Esperance naby Estcourt in KwaZulu-Natal geboer.
Volgens mnr. Koos Marais, bestuurder van Kwanalu se sekuriteitskantoor, kon Green sy vrou, wat in Durban was ten tye van die voorval, bel en aan haar verduidelik dat vier mans by die huis ingebreek het en sy bakkie, selfoon en skootrekenaar gesteel het.
“Green het omstreeks 01:00 Maandagoggend wakker geword toe die vier mans reeds in sy huis was. Hy het hulle gekonfronteer en hulle het een skoot na hom toe afgevuur en hom in die maag gewond. Green se vrou het hul seun ontbied, maar ten spyte van die seun se flinke optrede kon Green se lewe nie gered word nie,” sê Marais.
Green se bakkie is Maandag in die Ezakheni-woongebied, naby Ladysmith in KZN opgespoor, te danke aan ’n opspoortoestel. Die skootrekenaar en selfoon is steeds soek en, volgens Marais is nog geen arrestasies gemaak nie.
“Die vermoede is dat die misdadigers binnenshuise kennis gehad het. Green was alleen op die plaas en daar is bitter twyfel die misdadigers hiervan bewus was. Die geskiedenis wys ook dat in die gevalle waar aanvallers aan die boere bekend is, is die kans baie goed dat die boer vermoor word.
“Ons maan weer eens boere om hul persoonlike veiligheid rondom hul plaashuise so deeglik as moontlik op te skerp. Maak seker daar is diefwering, honde, alarmstelsels en goeie omheining om die plaashuis. Maak jouself so ’n moeilike teiken as moontlik vir misdadigers,” sê Marais.