Die ongeluk van mnr. Dirk Olivier (63), ’n skaapboer buite Sutherland, het skokgolwe deur die boeregemeenskap gestuur nadat hy verlede week van ’n kruiptrekker geval en met sy onderlyf onder die rusperband beland het.
Sy vrou, Elzabé, het na hom gehardloop. Die grusame toneel waarop sy afgekom het sal “nog vir baie jare” by haar spook.
“Dit het gelyk asof sy been in opgesnyde stukke op ’n kapbord lê; sy voet was morsaf, dit het soos ’n stuk vel gehang,” vertel sy vanuit ’n gastehuis naby die Tygerberg-hospitaal waar haar man ’n week gelede opgeneem is.