‘n Boer van Heilbron het ernstige brandwonde opgedoen nadat hy met ‘n petrolbom gegooi is, sê die Vryheidsfront Plus.
Mnr. Abrie Oosthuizen, leier van die party in die Vrystaat, sê mnr. Chris van Rensburg word tans in ‘n hospitaal in Vereeniging behandel.
Oosthuizen sê Van Rensburg werk op ‘n plaas én in Heilbron, en is deur twee mans genader terwyl hy Dinsdagaand sowat 22:00 op pad huis toe was.
“Toe hy van die teerpad af, sowat 7 km van die dorp af, op die grondpad afgedraai het, het twee mans na die bakkie aangekom. Sy venster was oop, en die mans het ‘n brandende bottel met petrol in, in die bakkie ingegooi.”
Spoorsnyers
Volgens Van Rensburg het die Polisie aangedui dat spoorsnyers tans die omgewing fynkam om die twee verdagtes op te spoor.
Van Rensburg het tweede- en derdegraadse brandwonde opgedoen.
“Aanvalle soos hierdie kan nie langer geduld word nie. Die VF Plus vertrou dat die polisie die twee verdagtes gou in hegtenis sal neem en dat hulle sodanig gestraf sal word dat dit as afskrikmiddel sal dien,” sê Oosthuizen.
11 April 2012