’n Boer van Frankfort moet ’n skadevergoeding aan sy buurman betaal nadat ’n brand die buurman se plaas verwoes het.
Luidens ’n berig op Nuus24.com het regter Johan Daffue Dinsdag (13 September 2011) in die Bloemfonteinse Hooggeregshof die ooreenkoms tussen die partye bekragtig.
Mnr. Fred Bibbey, die boer van die plaas Diepfontein, moet R165 000 aan mnr. Izak Frederik Viviers, van die plaas Modderfontein betaal. Die bedrag vergoed Viviers vir skade aan die weiveld en omheinings op sy plaas. Bibbey sal ook vir Viviers se regskoste verantwoordelik wees.
Die brand
Viviers het die eis ingestel nadat ’n brand op 23 Junie 2008 op die plaas Brakoog in die distrik Heilbron ontstaan het. Die brand het by arbeidshuise op die plaas ontstaan.
Volgens die eis was Bibbey en sy werkers nalatig deur nie die nodige brandpaaie om arbeidershuise en die plaas te hê nie. Hofstukke dui aan dat Viviers sowat R360 000 skade gely het.
Bibbey het in sy verweerskrif ontken dat hy nalatig was. Volgens hom was Viviers nalatig deur nie enigsins of voldoende brandpaaie op die plaas Modderfontein te hê nie, wat sou verhinder dat die brand na sý plaas versprei.
Bron: Nuus24.com
14 September 2011