Die boer van Noordwes wat in 2009 vir ’n kinderskieter uitgekryt is, is in die streekhof op Brits onskuldig bevind.
Dr. Dawie Swart, ’n dosent in kriminologie aan Unisa, is destyds in die media as ’n “rassistiese kinderskieter” gebrandmerk deur mnr. Solly Phetoe, woordvoerder van die vakbond Cosatu. Dié opmerking het gevolg op ’n voorval waarin Swart glo donshael afgevuur het om vier jeugdiges van sy plaas, Kleinfontein, te verjaag.
Mnre. Joseph Ntoagae, Leonard Nkadimeng, Tebogo Tabane en Thabo Tabane het volgens Swart lemoene op sy plaas gesteel. Hulle was destyds almal tussen 13 en 26 jaar oud.
Swart sê die hofsaak is sedert Julie 2009 gedurig uitgestel. Daar was óf nie ’n landdros beskikbaar nie, óf nie ’n hof nie óf die nodige getuienis kon nie gelewer word nie. “Ons moes een keer tot in die kinderhof vergader het.”
Die verhoor het uiteindelik in 2011 begin. Al vier klagtes op poging tot moord is as een saak verhoor en die staat kon nie bewys dat Swart die klaers wou doodmaak nie.
Getuienis
’n Ballistiese deskundige het getuig dit is onwaar dat daar op ’n afstand van tussen 9 m en 12 m op die viertal gevuur is omdat hulle dit nie sou oorleef nie.
Slegs twee van die vier vermeende slagoffers se mediese rekords kon aan die hof voorgehou word.
Daarvolgens is geen haeldons in die twee seuns gevind nie. Die dokter wat die verslae onderteken het, het ook nie in die hof getuig nie.
Swart sê die hofsaak het hom sowat R300 000, vele slapelose nagte, ’n smeerveldtog in die media en amper sy werk by Unisa gekos.
Dít terwyl hy vandag steeds onder diefstal gebuk gaan. “Die diefstal hou nie op nie. My lyndrade is onlangs weer geknip en die polisie doen niks nie. Twee konstabels sal ’n verklaring kom neem, maar dan word die saak nooit deur ’n inspekteur opgevolg nie.”
Phetoe meen geregtigheid het nie in dié saak geseëvier nie. “Die saak is herhaaldelik uitgestel en dit het veroorsaak dat geregtigheid geondermyn is. Dit is onaanvaarbaar dat ’n ondersoek drie jaar sloer. Cosatu sal aanhou om sulke sake en die regstelsel te ondersoek om te verseker dat reg geskied.”
Phetoe sê dié saak is afgehandel sonder dat die vakbond daaroor ingelig is. Dít nadat Cosatu se betoging voor die hof in 2009 wye publisiteit gekry het.
28 Maart 2012