
Ná ’n tweede dringende verskyning in die hooggeregshof op Grahamstad is ’n boer, wat ten spyte van ’n strydige hooggeregshofbevel aangehou is, uit ’n polisiesel op Molteno vrygelaat. Mnr. Erasmus Maritz, wat ook ’n sakeman is, kan nou moontlik ’n groot siviele eis teen die polisie lê.
Luidens ’n berig in Volksblad sê mnr. Louw Horn, Maritz se regsverteenwoordiger, hulle het reeds ’n strafregtelike klag van regsverydeling ingedien ná die polisie se blatante verontagsaming van ’n hofbevel. “My kliënt het uit sy pad gegaan om die polisie in hul ondersoek by te staan.”
Skietongeluk
Horn sê ’n skietongeluk het verlede Donderdag (21 Junie 2012) op ’n plaas naby Wildeperkhoek plaasgevind waar Maritz gejag het. ’n Plaaswerker is noodlottig gewond en Maritz het die saak onmiddellik by die Molteno-polisiekantoor aangemeld.
’n Landdros bedien net elke Dinsdag die Molteno-landdroshof en Horn het derhalwe met die polisie ooreengekom dat Maritz Dinsdag by die hof sou aanmeld en op borgtog vrygelaat sou word. Met sy aankoms by die hof is hy egter opgesluit.
Advv. Terry Price en Olaf Ronaasen het later Dinsdagmiddag (26 Junie 2012) ’n interdik by die hooggeregshof bekom waarvolgens Maritz onmiddellik vrygelaat moes word.
Die polisie het egter geweier en aangedui dat hulle die interdik ter syde sou stel. Hulle het wel later ingestem om Maritz vry te laat. Sy borgtog was R5 000, en hy sal op 17 Julie 2012 weer in die hof verskyn.
Bron: Volksblad