
Mnr. Andries Myburgh (32), ’n boer van Koffiefontein wat na bewering voorheen op sy plaas aangeval is, se liggaam is vanoggend (25 Januarie) glo langs die pad naby sy plaas met ’n vuurwapen langs hom gevind.
Myburgh is in Oktober 2020 glo deur twee mans aangeval wat hom probeer steek en brandstof oor hom gegooi het. Sy pakhuis is ook afgebrand.
Volgens konst. Masilela Langa, polisiewoordvoerder, het die polisie omstreeks 08:00 ’n oproep gekry oor ’n man se liggaam wat langs die R48-roete tussen Koffiefontein en Petrusburg lê.
“Die polisie is na die toneel en het op ’n man (32) afgekom. ’n Vuurwapen het langs hom gelê. Volgens sy vrou het hy na die veld gegaan om na sy skape te kyk. Die liggaam is deur ’n verbyganger opgemerk wat die polisie ontbied het. ’n Geregtelike ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van sy dood vas te stel.
“Wat die ondersoek na die beweerde aanval op 12 Oktober 2020 betref, is die saak gesluit. Daar is geen bewyse gevind wat kon dui dat ’n aanval op die dag plaasgevind het nie.”
Netwerk24 het destyds berig Myburgh het rook geruik terwyl hy middagete geëet het. Hy is na buite waar twee mans hom oor die kop geslaan het. Een man het hom met ’n mes probeer steek en die ander man het brandstof oor Myburgh uitgegooi. Volgens die berig kon Myburgh betyds sy vuurwapen uitruk en op die mans skiet, wat weggehardloop het. Hy het hulp ontbied van ander boere in die omgewing.
Mnr. Carel du Toit, Myburgh se swaer, wou geen kommentaar lewer nie. Twee buurmanne en nog ’n ingeligte het bevestig dat Myburgh oorlede is. Myburgh laat sy vrou, Lize, en twee kinders agter.