
’n Boer van Viljoenskroon word in ’n Johannesburgse hospitaal behandel ná ’n pyp sy skouer tydens ’n fratsongeluk deurboor het.
Die 68-jarige mnr. Boet Roux was Donderdag (24 Oktober 2012) saam met sy vrou, Lynette, dogter en kleinseun van sy plaas na Potchefstroom onderweg toe die ongeluk gebeur het.
’n Staalpyp het van ’n aankomende vragmotor afgeval, en luidens ’n berig in Beeld het dit Roux se bakkie se voorruit, sy skouer en die bakkiesitplek deurboor. Die pyp is tydens ’n noodoperasie uit Roux se skouer verwyder.
Versplinter
Lynette vertel reddingswerkers het die pyp, met ’n deursnee van 35mm, met hidrouliese toerusting korter gesny en hy is met pyp en al hospitaal toe geneem. Ná die operasie fokus dokters tans op infeksiebestryding voor Roux se skouer behandel word. “Dis gebreek en versplinter waar die pyp deur is."
Niemand anders in die voertuig is beseer nie. Lynette sê haar eggenoot was baie dapper. “Hy het net gesê ‘eina, dis seer’, maar kalm gebly en van die pad getrek.”
Die vragmotorbestuurder het vermoedelik nie agtergekom dat die pyp van die vragmotor afgeval het nie, en aangery. Die voertuig en bestuurder word tans gesoek.
Bron: Beeld