Ná ’n bejaarde boer van Richmond deur twee mans aangeval is, het hy homself vir drie dae in sy huis toegesluit, sê die SA Polisiediens.
Luidens ’n berig in Volksblad (15 September 2011) is die beseerde mnr. Petrus Schrooder Dinsdagmiddag (13 September 2011) gevind ná sy buurman op sy plaas aangekom het.
Luidens die berig het speurders van De Aar een van die verdagtes dieselfde aand op dié dorp aangekeer. Dít het gevolg ná die 68-jarige slagoffer se vuurwapen in die woonbuurt Waterdal gevind is. Lt.kol. Hendrik Swart sê nóg inhegtenisnemings word verwag.
Die voorval
Schrooder woon alleen op die plaas. Hy het vroeg Saterdagaand (10 September 2011) gaan ondersoek instel ná die kragopwekker op die plaas skielik afgeskakel is. Twee mans het hom buite sy huis aangeval. Hy is gedwing om sy brandkluis oop te sluit en ’n .38-Special-rewolwer en R5 000 is gesteel.
Die mans het Schrooder se hande vasgebind en hom in die huis gelos terwyl hulle met sy bakkie op die vlug geslaan het. Die plaashek was egter gesluit en die verdagtes moes die bakkie agterlaat.
Schrooder het homself losgewikkel en besef sy selfoon is gesteel. Hy het geen ander telefoonverbinding met die buitewêreld nie, en het derhalwe besluit om homself in die huis toe te sluit. Hy word in ’n hospitaal op De Aar vir kneuswonde en ander beserings behandel.
Bron: Volksblad
15 September 2011