
’n Boer van die distrik Koffiefontein het onlangs via Facebook hulp gekry nadat hy deur drie gewapende mans in sy plaashuis oorval en beroof is.
Volksblad berig mnr. Dirk Louw (68) van die plaas Blaauwbank, sowat 12?km buite Koffiefontein, het verlede Woensdagaand op Facebook sy vriende en familie laat weet hy is beroof.
André Damons skryf Louw, wie se selfoon en iPad in die rooftog gebuit is, het mense eers per e-pos laat weet van die rooftog, maar het nie dadelik terugvoer gekry nie.
Hy het dit toe op Facebook geplaas, waarna een van sy seuns dit gesien en die polisie gebel het. Hy het sy skootrekenaar, wat nie gesteel is nie, hiervoor gebruik.
Die booswigte het met ses vuurwapens, ’n windbuks, ’n selfoon en ’n iPad gevlug. Nog ’n windbuks is later agterop Louw se bakkie gevind. Hy is nie in die aanval beseer nie. Die polisie ondersoek ’n klag van huisroof.
Bron: Volksblad.