
’n Boer het verbruikers by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees daaraan herinner om waardering vir die landbou te hê deur plakkate rond te wys met slagspreuke soos “If you ate today, thank a farmer”.
“Ons is nie die muishonde nie, ons is die mense wat ’n volk kos gee,” sê dr. Johan Joubert oor sy plakkate. Hy is ’n vleisprodusent van Knysna.
Joubert wys gewoonlik die plakkate vir gaste, maar het dit ook KKNK toe gebring toe hy Landbouweekblad se ekspo bygewoon het.
Hy meen Suid-Afrikaanse boere het goeie publisiteit baie nodig. Hy het die plakkate van Kanada af gebring waar die boere dit gebruik om bewusmaking te skep.
Die plakkate was beslis in die kol. Terwyl Landbou.com met Joubert ’n onderhoud gevoer het, het mense se koppe gedraai om beter te sien wat op sy plakkate staan. Een vrou het nader gestaan met haar selfoon om ’n foto te neem en belangstellend oor Joubert se boerdery uitgevra.
“Ek hoop dat ons ook, soos in ander lande, deur die volk gerespekteer sal word as mense wat ’n diens aan die land lewer,” verduidelik hy.
“Van die Regering kry ons geen hulp nie, en as daar ’n prysstyging is, word die boere kwalik geneem. Die boere kry nie daai verhogings nie, soos ons nou weer onlangs met die vleisbedryf gesien het. Toe die vleispryse afgekom het, het die winkeliers dit nie aan die verbruiker deurgegee nie.”
Vir ’n kort video oor Joubert se plakkate en waarom hy die inisiatief geneem het, kyk hier.
4 April 2012