’n Boer van Bloemhof is na bewering Maandagnag (2 April 2012) met sy hande vasgebind in sy huis doodgeslaan, sê die SAPD.
Luidens ’n verklaring is die 68-jarige mnr. At van der Merwe Dinsdagoggend (3 April 2012) op die vloer van sy studeerkamer op die plaas Leeubos gevind. Die Polisie is teen 07:30 van die voorval in kennis gestel.
Van der Merwe het na verwagting weens ernstige hoofbeserings gesterf. Die huis is “omgekeer” deur die verdagtes. Die Polisie sê dit is nie duidelik wat alles gesteel is nie aangesien die huis “baie deurmekaar” is.
Onbekende
’n Onbekende aantal verdagtes word gesoek. Die verdagtes het met Van der Merwe se silver Rav4, registrasienommer FTY 116 NW, op die vlug geslaan.
Die Polisie versoek enigiemand wat dié voertuig opmerk, om hulle te kontak en nie die verdagtes te konfronteer nie, want hulle kan gewapen en gevaarlik wees. Die kontaknommer is 08600 10111.
Klagte van moord, huisroof en diefstal word ondersoek.
3 April 2012