
’n Geesdrif vir die landbou en ’n onwrikbare geloof in die toekoms van dié bedryf is die gemeenskaplike dryfveer van die Noord-Kaapse en Vrystaatse boere en landboukundiges van die jaar wat deur die sentrale tak van Landbouskrywers SA aangewys is.
Die Noord-Kaapse wenboere is die Hencoe-boerdery van mnre. Hennie en Bertie Coetzee van Lowerland. Die Coetzees bedryf hul uitgebreide boerdery op meer as 13?000?ha tussen Niekerkshoop, Prieska, Groblershoop en Griekwastad.
Hulle Bonsmarastoetery is verlede jaar deur Voermol bekroon en lewer jaarliks sowat 250 kommersiële vroulike diere en 40 stoetbulle vir die veilingmark, meestal vanaf die veld.
Die Vrystaatse boer van die jaar is mnr. Cobus van Coller van Libanon by Viljoenskroon. Hy en sy vrou, Magdel, boer op ’n totaal van 1?800?ha lande en 150?ha aangeplante weiding. Hulle bedryf ook ’n veeboerdery op 1?230?ha natuurlike weiding. Dit sluit ’n gemengde vleisbeeskudde van 250 vroulike diere in, asook ’n SA Vleismerino-kudde van 1?000 ooie.
Die nuwe toetreder tot die landbou is mnr. Keith Middleton en sy vrou, Jacqui, van Jacobsdal. Die Middletons is van die enkele produsente wat water van die Jacobsdal-waterskema vir besproeiing ontvang en verbou die afgelope sewe jaar mielies, koring en lusern.
Die Vrystaatse landboukundige van die jaar is mnr. Charl Hunlun van SA Stamboek in Bloemfontein. Hy het onder meer ’n deurslaggewende rol in die vestiging van BLUP in die land gespeel. Dié evalueringstelsel het wêreldwyd ’n omwenteling in veeverbetering bewerkstellig.
Die Noord-Kaapse landboukundige van die jaar is mnr. Dirk Günter, bestuurder: Landboukundige dienste, OVK. Hy was die laaste agt jaar vir die totstandkomding van die landboumaatskappy OVK se afdeling vir landboukundige dienste verantwoordelik.
Byskrif:
Borge en landbouers byeen. Van links is mnre. Neil de Klerk (GWK), Bertie en Hennie Coetzee van Prieska (Noord-Kaapse boere van die jaar), Cobus van Coller van Viljoenskroon (Vrystaatse boer van die jaar), prof. Alan Bennie (landboupersoonlikeid van die jaar), Charl Hunlun van SA Stamboek (Vrystaatse landboukundige van die jaar), Keith Middleton van Jacobsdal (landbou-toetreder), Dirk Günter (Noord-Kaapse landboukundige van die jaar) en Deon van der Ross (albei van OVK). Foto: Johan Norval