Die liggaam van ‘n 50 jarige boer van Limpopo is Dinsdagnag dood (11 Oktober 2011) op die grasperk voor sy huis gevind. Hy het ‘n kopwond gehad.
Luidens ‘n berig op Nuus24.com is mnr. Douw Brummer van die plaas Goedgedacht in die agterkop geskiet. Sy liggaam is sowat agt uur nadat hy vermoor is, gevind.
Lt.kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, sê Brummer se werkers het Woensdag omstreeks 06:00 op hom afgekom. Hy was glo kinderloos, geskei en het alleen op die plaas naby die Botswana-grens gebly.
Mnr. Pieter Roets, ‘n veiligheidsverteenwoordiger van TLU SA Noord, sê die moordenaars het Brummer moontlik ingewag. “Dit was ’n koelbloedige moord.”
Volgens Roets was Brummer al twee keer vantevore die slagoffer van diefstal en huisbraak. “Hy het onlangs aan sy bure ’n foto van ’n man gewys en gesê as hy iets sou oorkom, moet hulle weet dit is die man op die foto (wat hom iets aangedoen het).”
Wapens en Brummer se selfoon is glo gesteel, en dit is tans onduidelik watter ander items moontlik uit sy huis gesteel is.
Bron: Nuus24.com
13 Oktober 2011