
Die voorval het glo Vrydag 15 Julie op ’n plaas by Ermelo plaasgevind. Die boer, mnr. Louis Johannes Grobler, is in hegtenis geneem en het vandag in die hof verskyn.
Shongwe sê indien hy skuldig bevind word, moet hy die maksimum toegelate vonnis opgelê word om aan ander boere te wys dat hulle nie inbreuk kan maak op die regte van plaaswerkers en ander inwoners van plaasgemeenskappe nie.
Hy hoop dat die drie kinders berading sal kry om hulle te help om die voorval te verwerk.
Shongwe het gemeenskapslede versoek om enige inligting in verband met die voorval aan die polisie te verskaf, asook dat die hofverrigtinge kalm bly.
Mnr. Robert Davel, uitvoerende hoof van Mpumalanga Landbou, sê hulle is bewus van ’n ongeluk waartydens twee kinders beseer is, maar beskik tans nie oor meer besonderhede nie.
Die nasionale vervolgingsgesag het aan Landbou.com bevestig dat die boer aangekla word van drie klagte van poging tot moord en een klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hy verskyn Vrydag 22 Julie weer in die Ermelo-landdroshof.