‘n 44-Jarige boer van Stellenbosch is vroeg Vrydagoggend (18 Februarie) vermoor tydens ‘n skietvoorval tussen hom en twee verdagtes op sy plaas.
Kol. Andre Traut sê die voorval het 03:00 Vrydagoggend plaasgevind. Volgens Traut het mnr. Alberto Costa vermoedelik een van die twee verdagtes wat hy op die plaas betrap het, gewond. “ ’n Groot polisiesoektog is tans in die Cloetesville-omgewing aan die gang.”
Me. Porchia Adams, woordvoerder vir Agri Wes-Kaap, sê Costa het na bewering besef iets is fout op die plaas en het sy vuurwapen geneem om te gaan ondersoek instel. Hy het op die verdagtes afgekom, en ‘n skietgeveg het ontstaan. Costa is dood aan ‘n skietwond in sy bors.
Veldtog intussen aan die gang
Intussen ryloop Tim Thabethe, ‘n omroeper van OFM, en Steve Hofmeyr, van Bloemfontein na Kaapstad om geld in te samel om plaasgeweld te beveg. Mits die twee betyds in die stad kan wees om die U2-vertoning wat daar plaasvind by te woon, sal meer as R50 000 – wat reeds deur luisteraars van die radiostasie belowe is – aan die Agri Securitas-Fonds – geskenk word.
Mnr. Carl Opperman, hoofbestuurder van Agri Wes-Kaap, sê: “Enige moord, of dit op ‘n plaas of elders gebeur, is een moord te veel en ons kan hierdie situasie nie langer duld nie, daarom doen Agri Wes-Kaap weereens ‘n ernstige beroep op die Regering om strenger op te tree teenoor moordenaars en ander misdadigers.”
“Ons weier om te aanvaar dat misdaad van enige aard ‘maar net deel van die samelewing is en dat mense daaraan gewoond raak’. Elke landsburger het ‘n reg om te leef en ‘n reg tot ‘n veilige omgewing, veral op jou eie privaat eiendom. Dit word immers in die land se Grondwet onderskryf,” merk Opperman op.
18 Februarie 2011