
Van 1 tot 3 Junie het ’n boer van Carletonville en twee van sy vriende na bewering ’n plaaswerker gemartel. Mnre. Jacques Gouws, Willem Meyer en me. Susan Janse van Rensburg het luidens ’n berig in Rapport Vrydag (6 Julie 2012) in die landdroshof op die dorp verskyn.
Aanklagte van poging tot moord, aanranding en ontvoering staar die groep in die gesig. Hulle sal op 20 Julie weer in die hof verskyn. Hulle is elkeen op R5 000 borgtog vrygelaat.
Die voorval
Luidens die berig is die 26-jarige mnr. Puseletso Sibeko, ’n voormalige werknemer van Gouws, op 1 Junie vanjaar glo deur Gouws gekonfronteer oor harde musiek en geraas by die werkers se huise op sy plaas.
Sibeko het in ’n verklaring gesê Gouws het gedreig om hom te vermoor en het hom met ’n wapen in die gesig geslaan. Die volgende dag het Gouws Sibeko glo met die vuis bygedam omdat hy nie gaan werk het nie, en hy het hom in sy regtergewrig geskiet toe hy probeer weghardloop het.
Gouws en Meyer het Sibeko na bewering vasgebind en ’n stuk lap in sy mond gedruk. Daarna is hy glo tot 3 Junie 2012 met elektriese skokke gemartel.
Bron: Rapport