
'n Ramp het dié Vrystaatse boer getref toe 2 000 mofskape gevrek het nadat 'n haelbui, gepaard met reën en 'n ysige wind, die plaas getref het. Dit was net nadat die skape geskeer is.
Mnr. Ben Jacobs van die plaas Bergpunt in die Trompsburg-omgewing het bykans 2 000 Merino’s verloor in 'n haelstorm. Jacobs was vroeër betrokke in die tafeldruiwebedryf in die Oranjeriviervallei en het afgeskaal na dié veeboerdery, waar hy bygestaan word deur sy familie nadat hy 'n jaar gelede breinbloeding opgedoen het.
Mev. Marita Jacobs, Ben se vrou, sê net nadat hulle hul skape in Oktober laat skeer het, het 'n fratsweer toegeslaan. Die hael, reën en wind het oor hul twee aangrensende plase, Bergpunt en Vredevlei, uitgesak. Hul skape het verwilderd in die hael en wind begin hardloop en mekaar in die hoeke van kampe vertrap en daar in hope verkluim.
Sy sê die gebeure het in 'n oogwink plaasgevind en toe hulle besef wat gebeur het, is met 'n groot reddingspoging begin om skape wat nog lewendig was, te probeer red. “Ons het eerste op die ramme en die teel-ooie gefokus, om hulle te probeer deurhaal,” sê sy.
Hulle het van dié diere in 'n voerskuur op strooi gehuisves. ’n Veearts het aanbeveel dat dié skape met sterk koffie en suiker gevoer word. “Al die vroue op die plaas het kom help om dié skape met bottels koffie te voer.” Net drie ramme en 27 ooie is deugehaal, maar sowat 2 000 is dood. Die skade beloop ongeveer 35% van hulle totale boerdery, met 'n verdere langwerkende nadraai in die volgende jare se kontantvloei en produksiesyfers.
Die Jacobse het daarna vinnig begin om van die karkasse uit te ry. Hulle kon ’n paar skape van die hand sit, maar die meerderheid kon op dag twee nie meer te koop aangebied word nie. Mev. Jacobs sê hulle kon darem die maand se lone en diesel daarmee betaal. Hulle het probeer om leeuplase in die omgewing te kontak om die res van die karkasse aan te bied, maar kon niemand in die hande kry voordat ernstige verrotting ingetree het nie. Soveel as moontlik van die karkasse is uitgery na verafgeleë areas op die plaas en die res moes in die veld gelaat word totdat hulle in hope kon verbrand word.
Sy sê die ramp het só vinnig gebeur dat hulle niks kon doen nie. Sy sê die plaaslike boerevereniging het hulp aangebied en dit is vir hulle 'n riem onder die hart hoe boere na hulle uitgereik het met sowat 100 skape wat al aan hulle geskenk is. Sy sê om só uitgelewer te wees aan die elemente, waaroor 'n mens nie beheer het nie, hou jou baie afhanklik en nederig en dat dit goed is om te sien dat daar mense is wat die boer se leefwêreld deel en verstaan. Die Jacobs-gesin is ook baie bly oor die lusernskenkings wat saam met die melkbokdie swakste weeslammers deurgehaal het. (Sien foto hieronder.)
Die onmiddellike finansiële verlies beloop ongeveer R2 miljoen, met 'n swaar finansiële impak in die jare wat voorlê. Daar is nie vir hael en koue verseker nie, aangesien sulke skades baie selde voorkom en dit 'n besonder duur versekering is. Dié reuse-verlies sink nog in, sê sy.
* Marleen Smith berig dat 'n buurman van die Jacobse, mnr. Derek Alexander van die plaas Hamelfontein, sowat 400 skape in dieselfde haelbui verloor. Sy skape was ook pas geskeer en dié skape was in een kamp.
Mnr. Francois Pretorius van die plaas Samensuiping in die Trompsburg-distrik sê hy het 35 skape verloor. “Ek kon gelukkig die meeste van my skaap onder dak kry en die skade beperk.”
Mnr. Herman van Schalkwyk, voorsitter van die Trompsburg-boerevereniging, sê die skade is onberekenbaar. “Die regstreekse skade van die dooie skape is een ding, maar die gevolg daarvan oor die volgende paar jaar is baie erger.”
* Mev. Jacobs se kontakbesonderhede is:
E-pos: marita@credo.org.za
Sel 084 3373 199
Tel: 087 310 4355
Faks 086 550 2593
Klik op die foto's hieronder om dit te vergroot.
In een van die kampe het nie ‘n enkele speenlam oorgebly nie. Foto: Marita Jacobs
Die baie reën het dit moeilik gemaak om in die kampe te ry. Foto: Marita Jacobs
Dié melkbok kon die swakste weeslammers deurhaal. Foto: Marita Jacobs