’n Selfoon – dít is wat die lewe van mnr. Thomas Ferreira, ’n Bonsmara-boer van die plaas Riversford buite Bloemfontein, werd was.
Ferreira is Saterdagaand (26 November) herhaaldelik deur sy plaashuis se kombuisdeur geskiet. Hy het egter daarin geslaag om sy aanvallers af te weer en het in ’n swaargewonde toestand by sy plaaswerkers se huise gaan hulp soek.
Hy het egter in ’n voetpaadjie sowat 10 m van die werkers se huis af gesterf nadat hy sowat 500 m oor ’n muur en deur ’n kanaal gevorder het, berig Volksblad.
Verdagtes steeds soek
’n Buurman van Ferreira, mnr. Colin Vorster, het twee verdagtes op sy plaas gewaar net ná die voorval. Dié verdagtes was vermoedelik betrokke in die moord op Ferreira en die Polisie soek tans na hulle.
Vorster sê hy en Ferreira is al 16 jaar lank bure en het daar in dié tyd nog nooit so ’n voorval in die rustige omgewing voorgekom nie. Hy het die Tierpoort-polisie geprys vir hul vinnige reaksie en hulp en sê die boeregemeenskap het hul veiligheidsplan vinnig in aksie gestel. Paaie is toegemaak en die toneel afgesper.
Ferreira word oorleef deur sy vrou, dr. Marita Ferreira, ’n lektor in Afrikaans aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, sy dogter, Roux-Sil (22), en ’n seun, Thomas jr. (27).
Bron: Volksblad
29 November 2011