
Mnr. Marthinus Richter (68) van die plaas Vygeboompoort by Dwaalboom buite Thabazimbi is vermoor en sy vrou, Elsie, is beseer.
Mojapelo sê die voorval het vroeg vanoggend plaasgevind. ’n Onbekende aantal verdagtes het omstreeks 02:00 op die plaashuis toegeslaan. Die boer is vermoor en sy vrou is met ’n onbekende voorwerp gebrand. Die verdagtes het die huis geplunder en twee televisiestelle, vuurwapens, selfone, gereedskap en ander goedere gesteel. Die verdagtes het hul buit in die slagoffers se Volkswagen Amarok gelaai en daarmee van die toneel gevlug.
Die polisie het inligting ontvang oor ’n voertuig by Bela-Bela wat vermoedelik gesteel is en ooreenstem met die beskrywing van die Richters se voertuig. Die voertuig is in Potgieterstraat in Bela-Bela opgespoor en die polisie het die bestuurder aangesê om van die pad af te trek.
Die verdagtes het toe glo op die polisie begin skiet en ’n skietgeveg het gevolg. Een van die verdagte is doodgeskiet, terwyl ’n tweede gewond en in hegtenis geneem is. Vyf vuurwapens, insluitend ’n speelgoedgeweer, ammunisie, twee televisiestelle, twee selfone en gereedskap is in die voertuig gevind.
Mojapelo sê die twee verdagtes is reeds uitgeken. Hulle het glo op die Richters se plaas gewerk. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat nog verdagtes betrokke was.
Enigiemand met nuttige inligting word versoek om lt.kol. Richard Boshomane by 079 894 5501, sers. Masilo Makola by 071 601 5174, Crime Stop by 08600 10111 of hul naaste polisiekantoor te kontak.