
Die eienaar van die Zonnebloem Boerdery by Middelburg, Mpumalanga, sê hy bly geskok deur die paraatheid en professionaliteit van ’n groep gewapende misdadigers wat sy plaas op 26 Desember van ongeveer R3 miljoen se eiendom en kontant beroof het.
Mnr. Gideon Anderson sê hy was in Limpopo op sy ander plaas en die meeste van Zonnebloem Boerdery se personeel was met verlof toe sowat tien mense die Middelburg-plaas se twee sekuriteitswagte aangerand en vasgebind het.
Die misdadigers, wat glo met hul eie swaar vragmotors opgedaag het, het Zonnebloem se groot sykant- en platbaksleepwaens aan hul eie vragmotors te koppel. Daarna het hulle die plaas se groot, vol werkswinkels en dieselopgaartenk metodies geplunder; ’n Toyota Land Cruiser, ’n Toyota Hilux, en ’n 2 500 liter-dieselkarretjie gesteel; by Anderson se opstal ingebreek waar hulle sowat R300 000 kontant uit een kluis gesteel het, maar nie by sy vuurwapenkluis kon inbreek nie; en by die huishulp se verblyfplek ingebreek en R5 000 kontant daar gesteel.
“Ek boer al 30 jaar en het alle soorte diefstal in daardie jare gehad, maar nog nooit so iets nie. Hulle het op een of ander manier ’n sleutel van die werkswinkelarea se voorhek gehad, hulle het deur baie slotte en veiligheidshekke gebreek, en hulle het selfs geweet op watter plaashoofpad hulle kan ry nadat die onlangse groot reën al die ander beskadig het.”
Anderson voeg by dat sodra hulle van die rooftog in kennis gestel is, het hy en sy plaasbestuurder, mnr. Kirch Muller, onmiddellik van hul onderskeie gesinsvakansies teruggekeer. Hulle en ander plaaspersoneel het met plaaslike private landelike veiligheid- en sekuriteitstrukture en met plaaslike polisie begin saamwerk.
Inligting het die polisie na verskeie eiendomme in Emalahleni gelei waar van die gesteelde eiendom gevind is. Volgens Anderson is die gesteelde Toyota-voertuie kwaai beskadig. Hy sê ook hoewel die identiteit van die eienaar van dié eiendomme bekend is, het die polisie teen druktyd nog niemand in hegtenis geneem nie.
“Daar is baie vrae en vreemde dinge rondom die rooftog. Ek is gretig dat die polisie mense in hegtenis begin neem sodat ons hierdie vrae beantwoord kan kry. Dit was regtig ’n slegte ervaring. Ek is bly dat baie van die gesteelde goed teruggevind is, maar die inbreuk op ons privaatheid was moeilik om te hanteer. Ons weier egter om tou op te gooi.”
Mpumalanga SAPD het teen druktyd nog nie op Landbouweekblad se navrae oor die voorval gereageer nie.