’n Boer van Lephalale in Limpopo wat vermoedelik die oorsaak van die onlangse uitbreking van Afrika-varkpes (ASF) in Mpumalanga en Gauteng was, gaan deur die direktoraat veeartsenydiens van die Departement van Landbou vervolg word.
Die vermeende oortreder is na bewering ’n beesboer wat op klein skaal met varke boer. Volgens die departement is ASF-besmette varke na bewering sonder ’n permit en met geen identifikasiemerke nie uit die beheerde gebied in Limpopo vervoer na veilings in die gebied waar die uitbrekings plaasgevind het.
Vervoer van varke uit dele van Limpopo word streng beheer weens die gevaar van varkpes. Mnr. Simon Streicher, hoofbestuurder van die SA Varkvleisprodusente-organisasie (Savpo), sê die bedryf verwag dat dieregesondheidsregulasies strenger toegepas word en daar opgetree word teen boere wat nie wetgewing nakom nie.
Duur episode
“Dié episode kos baie geld. As die omvang van die uitbreking groter was, het dit finansiële chaos veroorsaak.” Bykans 134 plase en persele in die twee provinsies is onder kwarantyn geplaas en meer as 300 varke het gevrek of is geslag.
Kommersiële plase is nie deur die uitbreking geraak nie omdat streng bioveiligheidsmaatreëls toegepas word. Altesame 13 veilings in Gauteng en ál die veilings in die westelike deel van Mpumalanga is afgestel en die uitbreking is in bedwang gebring.
Savpo het R200 000 bygedra as vergoeding vir varke wat geslag is om die risiko van verspreiding te verminder. Die organisasie het dit egter duidelik gestel dat dit nie weer gaan gebeur nie.
“Die koste van die slag van diere vir siektebestryding is die departement se verantwoordelikheid,” sê mnr. Peter Mockford, voorsitter van Savpo.
13 Maart 2012