'n Baie verbaasde boer buite Dealesville het gister 'n “baie aggressiewe” leeuwelpie tussen sy skape in hul kraal op sy plaas gevind.
Mnr. Gerhard van Rhyn is deur een van sy plaaswerkers geroep met die nuus dat hy 'n “kat” in sy skaapkraal gewaar het, berig Volksblad. Daar gekom het Van Rhyn die leeuwelpie langs die karkas van 'n skaap aangetref. Die welpie het die skaap doodgebyt en daaraan gevreet.
Volgens Van Rhyn vermoed hy dat die welpie in die nag in die kraal gespring, die skaap doodgebyt en daarna sommer die aand tussen die skape deurgebring het.
Kwaai kat
Waar die wilde dier vandaan kom, weet niemand nie. 'n Leeuteler van Kimberley sal die welpie, wat vermoedelik nie ouer as drie maande is nie, nou onder sy sorg neem en by ander welpies van min of meer dieselfde ouderdom sit.
Hy is glo redelik maer, gespanne en het gedurig geknor. Die skape het in die verste hoek van die kraal saamgedrom om weg te kom van hom.
Dit het glo sowat 30 minute geneem om die aggressiewe welpie te vang. “Hy lyk mak, maar wanneer jy nader kom, hap hy na jou. Dit was 'n gesukkel om hom te vang,” sê Van Rhyn se seun, Stefan.
Bron: Volksblad
28 November 2011