
’n Veeboer van Koster se lewe het sowat twee en half jaar gelede ingrypend verander ná ’n veedief in ’n skermutseling tussen boere en verdagtes doodgeskiet is. Mnr. Wilhelm Rochér, voorsitter van die TLU SA se wes-streek, is kort ná die voorval op 22 Januarie 2010 in hegtenis geneem.
Luidens ’n berig op Nuus24.com het ’n landdros onlangs in die Koster-landdroshof ontslag aan Rochér toegestaan. In sy uitspraak het die landdros gesê die polisie het swak ondersoekwerk gedoen, verskeie aspekte is nie ondersoek nie en die polisie het geen bewyse gehad om die klag teen Rochér te steun nie.
Rochér was die dag voor sy in hegtenisneming die slagoffer van veediefstal met twee van sy beeste wat geskiet en geslag is. Die distrik is vir ’n tydperk van 13 maande deur erge veediefstal geteister, met boere in die omgewing wat sowat 90 koeie, of R1 miljoen, verloor het.
Patrollie
Die boere in die omgewing wou patrollie ry, en Rochér het aangedui dat hy die vroegoggend skof sou vat. Tydens Rochér se skof het veediewe weer toegeslaan, en werkers het aangedui dat hulle ’n voertuig in die veld gesien het.
Ander boere was reeds by die voertuig toe Rochér daar aangekom het. “Toe ek stilhou, het ’n skoot geklap en ’n man het (tussen die bosse) uitgekom. Een van die ander boere het ’n verdagte (wat sedertdien skuldig bevind is) vasgehou. Ek het na die man wat uitgekom het, gegryp, maar hy het losgeruk en weggehardloop. Ek het waarskuwingskote geskiet en die man het oor ’n heining aan die linkerkant geklim.” Die man wat gevlug het, is later dood gevind.
Rochér sê hy het besef ’n mens het ’n verantwoordelikheid om jou besittings binne die perke van die wet te beskerm. “Wanneer jy weet jy het nie verkeerd gedoen nie, moet jy glo. ’n Mens moet jou ook nie laat intimideer nie.”
Bron: Nuus24.com