’n Jong boer van Kenia het vir homself ’n kontantprys van 800 euro en ’n titel losgeslaan met sy blog oor landboutegnieke en organiese boerdery.
Luidens ’n berig op Business Daily Africa sal die 24-jarige Anthony Kahonge Mwangi binnekort na Suid-Afrika reis om sy derde prys in die YoBloco youth in agriculture-blogkompetisie te ontvang.
Mwangi het na metodes gesoek om die familieplaas vrugbaar te hou. Hy het in die distrik Murang’a in die sentrale deel van Kenia grootgeword, waar sy familie ’n vrugte- en groenteplaas van sowat 6 hektaar besit.
Hy was baie bekommerd oor die agteruitgang van die grond se gehalte. Mwangi sê van die boere met wie hy gepraat het, het hom aangeraai om chemikalieë of kunsmis te gebruik.
Organies
Volgens Mwangi het hy hom na die internet gewend om oplossings te vind: “Hul (die chemikalieë en kunsmis) name was te moeilik en ek het besluit ek kan nie produkte gebruik waarvan ek amper nie die name kon uitspreek nie.”
Met behulp van die internet het Mwangi besluit om organiese metodes toe te pas om die plaas se vrugbaarheid te verbeter. Vandag word mielies, boontjies, grenadellas, aartappels, pietersielie, kool en spinasie in wisselbou op die plaas gekweek.
Die familie plant ook bamboes wat onder meer vir omgewingsvriendelike meubels gebruik word. Mwangi het in Oktober verlede jaar die blog, ‘‘Young Agropreneur’’, begin om sy metodes en tegnieke te deel. Hy tans ’n heeltydse student aan die Katolieke Universiteit in Nairobi.
Bron: Business Daily Africa
3 April 2012