
'n Berig oor hoe mnr. Douw van der Merwe van Hokaai-stoetery die opveil van een van sy ooie tydens 'n veiling deur Wholesome Afslaers laat staak het om dit aan Jandré van Rooyen te gee, is binne 'n week meer as 50 000 keer op Landbou.com gelees.
Talle mense het die skenker geloof.
Die reaksie het die beskeie skenker skoon self 'n knop in die keel laat kry. “Daar is baie mense wat méér doen as wat ek gedoen het,” het hy aan Landbouweekblad gesê.
Van der Merwe ken die Van Rooyens en weet Jandré, 'n gr. 6-leerling aan die Laerskool Wonderboom in Pretoria, het 'n passie vir bokboerdery. “Jandré het sy Saterdag opgeoffer om die veiling by te woon en sy spaargeld saamgebring. Dit het my nederig laat voel.”
Voorsitter van Bosveld Boerbokklub
Van der Merwe, wat ook 'n prokureur is, boer met 500 Boerbokke op 20 ha in die Honingsnetskrans-omgewing noord van Pretoria en is die voorsitter van die Bosveld-Boerbokklub.
Hy het op die ingewing van die oomblik besluit om die bok te skenk, om sy liefde vir bokke te help koester en ontwikkel. “ 'n Mens is mos lief vir boerdery én vir kinders. Ons kinders is ons toekoms.”
Mnr. Buks van Rooyen, Jandré se pa, boer deeltyds op hul kleinhoewe in die Waterval-omgewing noord van Pretoria en het 'n jong Boerbok-boerdery.
Van Rooyen sê Jandré het self besluit hy wil die veiling bywoon en het R4 000 gespaar gehad, maar dit was nie genoeg teen die ander boere-bieërs nie.
Sy broer kry ook 'n bok
Van der Merwe het later ook 'n ooi aan Jandré se broer, Fourie, 'n gr. 8-leerling aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, gegee.
Die twee broers gaan nou hul eie bokboerdery begin, met Pa Buks wat hand bysit, maar ook wil hê die kinders moet leer om dit as hul eie onderneming te bestuur.
“Teen die tyd wat hulle klaar is met skool, het hulle iets om te wys.”
Hy het gespot hy hoop net nie die seuns maak meer geld met hul boerdery as hy nie.
Wou rekenaar koop
'n Opgewonde Jandré sê hy spaar al twee jaar lank om 'n rekenaar te koop, maar toe hy besef hoeveel data rekenaarspeletjies vreet, het hy eerder op 'n bok besluit.
Mnr. Corné du Plessis, afslaer van Wholesome Afslaers, het oor die gebeure gesê “dit is ‘n riem onder die hart om die goeie ingesteldheid en vertroue onder boere te sien – ondanks die droogte en ongunstige ekonomiese omstandighede.”
* Berig deur Carien Kruger en Adele Engelbrecht