Die boerderye van die toekoms moet nie net kos produseer nie, maar moet ook produsente van skoon energie wees, sê prof. Dieter Holm, ’n energie-kenner van die Universiteit van Pretoria.
Holm, wat ook ondervoorsitter van die Internasionale Sonvereniging is, het by die TLU SA se jaarkongres gesê Suid-Afrika beskik oor ’n kwart van die wêreld se beste wintersonskyngebied, maar maak die minste daarvan gebruik. Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgebied het 59% van die beste sonskyngebied in die winter en Afrika het 95%.
Hy sê boere moet wegkom uit die denkpatroon waar hulle uitgelewerde verbruikers is na een wat eie energie produseer en ook aan ander verskaf. “My raad is vee soveel as moontlik voor jou eie deur. Om byvoorbeeld reënwater te oes, is van die maklikste maniere om druk op ons hulpbronne te verlig.”
Die TLU SA het ’n mosie aanvaar om dringend alternatiewe bronne van energie te begin oorweeg en ook om druk op die owerhede uit te oefen om die diensbaarheid en omvang van die vervoer-infrastruktuur te verbeter.
9 September 2010