
Sterk vloei in die Oranje- en Vaalrivier het die vlak in die Benede-Oranjerivier laat styg tot vlakke soortgelyk aan dié in Februarie 2021. Wingerde, landerye en paaie is sover nie oorstroom nie, maar by sommige plekke is dit baie naby.
Mnr. Wilco Fourie, voorsitter van die Oranjerivier-landbou-unie, sê swaar reën het veroorsaak was die vier groot damme in die rivierstelsel reeds in Desember 2021 almal vol.
“Die Gariepdam in die Oranjerivier het op 17 Desember begin oorloop en die Vanderkloofdam twee dae later. In die Vaalrivier is die Bloemhofdam se uitvloei stelselmatig verhoog vanaf 400 kumek (kubieke meter/sekonde) op 12 Desember tot 1 250 kumek op 5 Januarie. By die Vaaldam is twee sluise op 29 Desember oopgemaak, nog twee sluise op 4 Januarie en ’n vyfde sluis op 5 Januarie.”Mnr. Clayton Swart, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse tafeldruifbedryf (Sati), het op 4 Januarie gesê die bedryf se oestyd was in dié stadium nie deur die riviervlak ontwrig nie en die weer was goed vir oes. “Die riviervlakke is hoog, maar die oes gaan voort. Paaie is toeganklik.”
Fourie, wat by Groblershoop met rosyntjies, pekanneute en vee boer en die 2011-vloed beleef het, sê die vloei van die Oranjerivier by Prieska was volgens die departement van water en sanitasie se inligting op 5 Januarie sowat 2 490 kumek. Dit was sowat 300 kumek minder as wat dit met die hoogste vlak ’n paar dae tevore was.
“Die verhoogde vloei vanuit die Vaalrivier lyk tans of dit net gaan veroorsaak dat die rivier onder die samevloeiing met die Oranjerivier vir twee dae van 7 tot 9 Januarie konstant (op ’n hoë vlak) gaan loop, waarna dit sal sak.”
Rivierstelsels gemonitor
Fourie monitor al lank as voorsitter van watersake van die landbou-unie inligting oor die Vaal- en Oranjerivierstelsel op die departement van waterwese en sanitasie se webblad omdat dit boere in die Benede-Oranjerivier onderkant Prieska kan raak.
Hy het die 1988- en 2011-vloede bestudeer om te verstaan hoe die vloei deur die twee rivierstelsels werk en waar die grootste gevaar vir boere in sy omgewing lê.
Hy kyk nou elke oggend na die inligting oor die Vaal-, Bloemhof-, Gariep- en Vanderkloofdam, asook punte hoër op in die twee riviere om vroegtydig te weet hoeveel water op pad is. “Dit help om naastenby te kan beplan om nie onkant gevang te word nie.”
In 2011 het hy die inligting aan ’n paar vriende gestuur wat bekommerd was oor hul pompe. Verlede jaar het hy dit weer gedoen en sowat 1 000 mense het die inligting ontvang. Vanjaar doen hy dit weer vir bykans 700 mense.
Kritieke punt verskil van plaas tot plaas
Fourie sê die departement beskou enige vloei bokant die normale as vloedtoestande, maar elke boer se kritieke punt verskil. “Dit kan die punt wees waar jy nie meer kan pomp nie of die punt waar water in die lande begin loop.
“Die eerste plekke waar water ingaan, onder 3 000 kumek, gaan gewoonlik met min tot geen strukturele skade gepaard, maar kan laer lande se oeste beïnvloed, soos groente en lusern wat waarskynlik later kan vrek. Rondom 3 000 kumek is daar ’n paar paaie wat nie meer begaanbaar is nie. Verby hierdie punt begin water ook by lande instoot, veral op plekke waar die vloedwalle nog nie herstel is nie.
“Dit is goed as die riviervloei onder 3 000 kumek bly. By 3 500 kumek raak dit kritiek. Party vloedwalle kan egter tot 4 500 kumek hou. As die water hoër raak en dan deur die wal breek, is die skade ook groter.”
Bestuur van watervlakke
Fourie sê in die Oranjerivierstelsel maak die departement nie sluise oop nie, omdat die Gariep- en Vanderkloofdam só ontwerp is dat daar ’n sentrale oorloop is wat die uitloop bietjie beperk ten tye van sterk invloei.
Die rosyne-, pekanneute en wingerdbedryf in die Benede-Oranje, wat in die verlede al groot skade weens vloede gely het, wil egter ná vanjaar se reënseisoen gesprek voer met die departement en voorstelle maak rakende bestuur van watervlakke in ’n nat seisoen, soos om damme vroeg reeds op ’n 90%-vlak te bestuur om bufferkapasiteit te hê vir swaar reënbuie. Hy monitor intussen alle inligting oor damvlakke en riviervloeie.
Die komende weke is die tyd wanneer daar in die verlede groot vloede was. Boere is daarom dankbaar dat water nou uit damme in die Vaalrivierstelsel gelaat is, sodat meer kapasiteit geskep is. “Ons het nog ’n lang risikotydperk wat voorlê,” sê Fourie.