
Konstruksiewerk om die wal van die Clanwilliamdam te lig, begin Oktober en sal na verwagting Maart 2017 afgehandel wees.
Die Minister van Waterwese en Sanitasie, me. Nomvula Mokonyane, het tydens haar begrotingstoespraak in die Parlement gesê die geraamde koste vir die projek is R2,5 miljard. Werk om die damwal te lig, sal ook maatreëls insluit om die wal te stabiliseer. Werk om die N7-hoofroete wat langs die dam verbyloop, te verskuif, het in Augustus 2013 begin.
Mokonyane het aangekondig 75% van die ekstra water wat deur dié opgradering verkry sal word, sal vir arm boere gereserveer word om 'n gelyker verdeling van hulpbronne te verseker.
Sy het ook langtermynplanne vir die Groter Letabagebied in Limpopo aangekondig, waar hulle begin het met 'n plan om die Tzaneendam se wal te lig en die nuwe Nwamitwadam vir die Groot Letaba-waterontwikkelingsprojek te bou. Dit gaan sowat R4,2 miljard kos en na verwagting in 2019 afgehandel wees.