
Agri Gauteng het sy dank uitgespreek teenoor die landbougemeenskap wat die inwoners van Duduza te hulp gesnel het ná ’n verwoestende tornado hulle getref het.
Die organisasie het in ’n nuusverklaring veral sy waardering vir boere van die Nigel-gebied sowel as die Johannesburgse varsproduktemark uitgespreek. Duduza het op 2 Oktober 2011 onder ’n tornado deurgeloop wat groot skade veroorsaak het en sowat 200 gesinne dakloos gelaat het.
“Tragedies van hierdie aard en die afmetings daarvan kan ’n goeie uitwerking hê as die nasiebouwaarde en die energie van gunstige uitreiking deur boere en die publiek ten volle ontgin word,” sê mnr. André Botha, voorsitter van Agri Gauteng.
Volhoubare bystand
Botha het dit beklemtoon dat volhoubare bystand aan die gemeenskap nodig is om te voorsien in die opvoedkundige en behuisingsbehoeftes en die herstel van infrastruktuur.
Mnr. Anthony Kesden, ramphulp-direkteur van Ekurhuleni, sê hulle het baie kos, komberse, klere en beddegoed ontvang. Hulle benodig egter skryfbehoeftes vir kinders en huishoudelike toestelle, soos ketels en elektriese stoofplate. Mense wat wil help, kan mnr. Ndoli Mosiane by tel. 011 999 9303 bel.
Plaasprodukte wat nog benodig word, is mielies, mieliemeel, eiers, vars groente en vrugte (vooraf skakeling is nodig) en nie-bederfbare voedsel. Die skakelmense is Dirk Hanekom of Heléne Swanepoel van Agri Gauteng gedurende kantoorure by tel. 012 643 3400 of dirk@agrisa.co.za.
18 Oktober 2011