Vrese is dat giftige stowwe, insluitend arseen en litium, moontlik in die uitskot kan wees wat dele van die nabygeleë dorp en die twee naaste plase fisies verwoes het en wat ook in minstens 20 kilometer se waterweë tot by die Kalkfonteindam gevloei het. Die uitskotdam se wal het in die vroeë oggendure van 11 September onverwags gebars.
Dr. Jack Armour, Vrystaat Landbou se kommersiële bestuurder, sê aan Landbouweekblad dat die departement van water en sanitasie reeds verskeie monsters van beide oppervlak- en grondwater geneem het vir dringende toetsing om die tipes en konsentrasies van enige giftige smetstowwe wat die uitskot mag bevat, te identifiseer.
“Gelukkig is baie van die oppervlakwater wat deur die uitskot besmet is, deur die Kalkfonteindam gestuit. Dit sou ’n potensiële wydverspreide ramp wees as hierdie water selfs verder na besproeiingsplase stroomaf van die Kalkfonteindam kon versprei het,” sê Armour. “Die plase tussen Jagersfontein en die Kalkfonteindam is meestal veeplase. As voorsorgmaatreël is hierdie boere besig om waterpunte op te rig met water afkomstig van gebiede wat nie deur die uitskot besmet is nie.”