Die georganiseerde landbou in die Oos- Kaap het ernstige bedenkinge oor planne van oliegroepe om vir skaliegas in die Karoo en die Oos-Kaap te soek. Skaliegas is aardgas wat in diep, ondergrondse skalierots vasgevang is.
Volgens die webblad www.news24 is hidrouliese breking die enigste manier om dit te ontgin. Hidrouliese breking behels die maak van krake in die rots. Dan word ’n mengsel van water, sand en chemikalieë teen hoë druk met tussenposes in ’n horisontale tonnel in die rotslae gespuit.
Besoedeling
Die proses verg ook groot hoeveelhede water. In Amerika, waar die tegnologie die afgelope dekade in die Midde-Weste gebruik word, het kommer ontstaan oor die besoedeling van grondwater weens die chemikalieë wat in die proses gebruik word.
“Ek voel soos die meeste boere. Wat gebeur as hulle hier op jou plaas boor en daar is ’n ontploffing? En wat van ons boorgate?” wil mnr. Ernest Pringle, voorsitter van Agri Oos-Kaap, weet.
Pringle sê sy organisasie is nog nie amptelik in kennis gestel van die oliegroepe Shell, Falcon en Sasol se vennote, Statoil en Chesa peake Energy, se voorneme om gasbronne in die Karoo en dele van die Noordoos-Kaap te soek nie.
Gevaarlik
Luidens ’n berig op News24 het ’n boer in Pennsilvanië se beeste siek geword nadat hulle giftige afvalwater van ’n skaliegasprojek gedrink het. Shell het intussen bekend gemaak dat openbare vergaderings teen die einde van die maand op onder meer Hofmeyr, Victoria- Wes, Loxton, Beaufort-Wes, Graaff- Reinet, Murraysburg, Somerset-Oos, Port Elizabeth, Kaapstad en Sutherland gehou gaan word.
Pringle sê verteenwoordigers van Agri Oos-Kaap wil die vergaderings bywoon en gaan indringende vrae stel. “Die vergaderings is een saak. Om alternatiewe te vind, is egter ’n ander. Daarom sal ’n impakstudie deur onafhanklike kundiges nodig wees,” het hy gesê.
24 Januarie 2011