Twee boere, ‘n plaaswerker en twee wildbewaarders is aangekeer in ‘n polisie-operasie teen renosterstroping, aldus die SA Polisiediens.
Luidens ‘n berig op News24.com was die groep glo van plan om sowat 10 renosters in die Mkhuze Valle-wildreservaat in die Pongola-omgewing in KwaZulu-Natal vir hulle horings dood te maak.
Die mans is op 4 Maart 2012 aangekeer, en na verwagting sal ‘n aansoek om borgtog dié week teengestaan word. Volgens die berig is die verdagtes mnre. Ewart Potgieter (34) van Louwsburg, Riaan Vermaak (32) van Newcastle, Filemon Mbatha (42), Nkosinathi Sithole en (34) en Mduduzi Sithole (29) wat al twee wildbewaarders is.
Arrestasies ná drade gknip is
Die twee boere is glo aangekeer deur geheime polisiebeamptes terwyl hulle vroeg die Sondagoggend die drade van die wildreservaat geknip het vir die beplande renosterjagsessie. Die ander verdagtes is later aangekeer.
Die mans het verlede week in die hof op Magudu verskyn, waartydens die saak tot 15 Maart 2012 uitgestel is.
Bron: News24.com
13 Maart 2012