
Vir jare het die Van Zyls van ZZ2 geglo Mooketsi naby Tzaneen is die beste plek in Suid-Afrika om tamaties te verbou, maar weens droogtes daar het hulle 'n klompie jare gelede ook in die Waterpoort-omgewing noord van die Soutpansberg tamaties begin plant.
"Hier oes ons nou dubbel die hoeveelheid tamaties per hektaar teenoor wat ons in Mooketsi oes," het ZZ2 se uitvoerende bestuurder, mnr. Philé van Zyl, aan boere by 'n inligtingsvergadering van die Forum vir Belanghebbendes by Vhembe- Minerale Hulpbronne (VMRSF) gesê.
"Daarom moet ons besluite oor wat hier gebeur, ekonomies volhoubaar wees vir die breër bevolking," het hy bygevoeg. Van Zyl het gewaarsku dat beplande mynaktiwiteite van Coal of Africa (CoAL), 'n Australiese myngroep wat vir ses lisensies vir steenkoolmyne in die omgewing aansoek gedoen het, alles behalwe volhoubaar vir die omgewing en sy mense gaan wees.
Hy het gesê daar woon 1,2 miljoen mense in die Vhembe-gebied wat tussen die Soutpansberg en die Limpoporivier lê en van Alldays in die weste tot by Pafuri langs die Kruger-wildtuin in die ooste strek.
Van Zyl het gesê ZZ2 se sukses in Waterpoort is 'n bewys van die streek se landboupotensiaal en die potensiaal om vir baie mense werk en welvaart te skep, dalk meer as enige ander onderneming. “Daarom wil ons alle moontlike maatreëls in plek hê om seker te maak dat Vhembe se volle landboupotensiaal ontsluit word."
Die VMRSF waarvan Van Zyl die voorsitter is, het nou met regstappe begin om CoAL se mynplanne te stuit nadat besware teen die myngroep se aansoek vir 'n mynlisensie naby Louis Trichardt op tegniese punte verwerp is.
Van Zyl het gesê die forum glo die regsgeding se kostes gaan in die omgewing van R2 miljoen beloop. Hy het boere gevra om hul hande diep in hul sakke te steek en by te dra tot die regskostes.
Mnr. Christo Rheeder, 'n Johannesburgse prokureur wat spesialiseer in myn- en omgewingsreg, is deur die VMRSF aangestel om namens die forum op te tree. Hy het aan boere gesê hy is vol vertroue dat CoAL se planne deur regstappe gestuit kan word, maar het gewaarsku dat die myngroep reeds R800 miljoen se skuld aangegaan het om die aanvanklike eksplorasiewerk te doen en nie sommerso gaan opgee nie.