
Goeie samewerking tussen boere en die polisie het daartoe gelei dat twee vermeende sigaretsmokkelaars gisteroggend naby Tolwe in Limpopo vasgetrek is, sê brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder.
Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsie se polisiekommisaris, is vol lof vir die werk van die landelike veiligheidstrukture wat tot die inhegtenisneming van die twee mans gelei het.
In ’n verklaring sê Mojapelo boere het die polisie by die Saambou-brug gewaarsku dat twee verdagte bakkies vanaf Musina in die rigting van die Saambou-brug op die Alldays-pad gery het.
Plaaslike polisie en boere het blitsvinnig ’n padblokkade by die Maasstroom-kruising opgestel, met die doel om die verdagte voertuie voor te keer en te deursoek. Die twee voertuie se bestuurders het egter op die Tolwe-pad weggejaag met polisie en boere wat hul agterna gesit het.
Die voertuie is naby Tolwe tot stilstand gedwing. Een van die bestuurders is in hegtenis geneem, terwyl die ander een sy voertuig net daar gelos en te voet gevlug het. In ‘n japtrap is die plaas waar die verdagte in die veld ingehardloop het afgekordon. Spoorsnyhonde van die gebied se teenstropingseenheid is op sy spoor gesit. Hy is later opgespoor waar hy in die bos weggekruip het en is ook in hegtenis geneem.
Onwettige sigarette ter waarde van R667 326 is in die twee voertuie gevind, sê Mojapelo in sy verklaring.
Die twee verdagtes sal in die Senwabarwana-landdroshof verskyn op klagte van die besit van en smokkel met onwettige sigarette. Die polisie is besig met ’n ondersoek om die oorsprong en die bestemming van die besending sigarette te bepaal, sê Mojapelo.