
Die verhale van kommersiële boere wat nuwe toetreders in die landbou help, gee hom moed, sê mnr. Nhlanhla Nene, voormalige Minister van Finansies.
Nene, wat ook deeltyds boer, het in Midrand by die jaarlikse FarmBiz-konferensie oor agribesigheid in Afrika gesê hoewel Suid-Afrika nog nie veel gevorder het met die landboudoelwitte in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) nie, bemoedig sulke verhale hom.
Nene is sedert hy in Desember verlede jaar deur pres. Jacob Zuma as minister ontslaan is, 'n raadgewer vir Thebe Investment Corporation en nie-uitvoerende direkteur van die beleggingsmaatskappy Allan Gray.
Van plaashek tot by mark
Vir Thebe, wat reeds sedert 1992 bestaan, kyk hy onder meer na beleggingsgeleenthede in voedselverwerking, vanaf die plaashek tot by markte. Hy het gesê Thebe ondersoek hoe om nuwe markte vir onderbenutte te ontgin en hoe om landelike ontwikkeling en werkgeleenthede te bevorder. “Die vraag is hoe die koek vergroot kan word.”
Volgens Nene het voornemende nuwe toetreders tot die sektor dikwels nie die nodige vaardighede, tegniese kennis en netwerke nie. Thebe kan help deur ervare en onervare mense bymekaar te bring.
Nene glo veral opkomende boere sal uit die bevordering van die sekondêre landbousektor voordeel trek.
Is eiendomsregte veilig?
Dr. Tobias Doyer, programdirekteur van die konferensie, het Nene in 'n paneelbespreking gevra hoe veilig eiendomsregte is.
“Onsekerheid is die grootste vyand van vooruitgang,” het Nene gesê. “Ons mag kwessies en uitdagings hê, maar ons is 'n grondwetlike demokrasie wat die toets van tyd deurstaan het.
“Dit is 'n veiligheidsmaatreël wat ons teen onsself ingestel het. Dit maak nie saak hoe magshonger ons raak nie, ons sal twee derdes nodig hê om dit te verander, ek dink nie Suid-Afrika sal ons toelaat om dit te doen nie.”
Nene het gesê een van die baie bemoedigende ontwikkelings in Suid-Afrika sedert hy as minister ontslaan is, is die doelbewuste en selfs soms aggressiewe gesprekke tussen die private sektor en die Regering. “Dit wys ons leer tóg oor sekere goed.”
Nene het voorts gesê “almal moet moue oprol” om die NOP aan die gang te kry. “Ons kan nie net vir die Regering wag om sy rol te vervul nie.”