Sensus 2011 het bo verwagting goed in landelike gebiede afgeloop, met groot dank aan die georganiseerde landbou, sê Statistieke SA.
Mnr. Fanie Roos, verteenwoordiger van Statistieke SA, sê hulle is baie dankbaar vir die “baie goeie samewerking” wat hulle van boere en die georganiseerde landbou ontvang het.
Hy sê heelwat boere het hulle ná die aanvanklike opnametydperk gebel om hulle in kennis te stel dat hulle nié getel is nie. “Ons het die verskillende provinsies geskakel en hulle ingelig oor watter boere nog besoek moet word.”
Volgens Roos was van die grootste probleme wat telbeamptes ondervind het, die groot afstande tussen plase asook ’n gebrek aan voertuie om plase te besoek.
Verwerking
Intussen het Statistieke SA sowat 880 mense opgelei om van Januarie aanstaande jaar af die vraelyste wat tydens die Sensus ingevul is, te verwerk. Luidens ’n berig in Engineering News sal dié werknemers ’n nuwe metode gebruik om data in te voer.
Sowat 135 000 bokse met vraelyste sal voor einde vanjaar by die projeksentrum in Roseville, Pretoria, afgelaai word, waar dit in ’n stelsel ingevoer en in ’n pakkamer bewaar sal word. Die bokse bevat elkeen 2 500 bladsye wat voor en agter ingevul is.
R3,2 miljard
Mnr. Trevor Manuel, Minister in die Presidensie verantwoordelik vir die Nasionale Beplanningskommissie, het (Maandag 12 Desember 2011) die sentrum besoek. Hy sê dié projek, wat sowat R3,2 miljard kos, gaan ’belangrike rol speel in die Regering se beplanning om dienste aan gemeenskappe te verskaf.
Manuel sê hy is tevrede met die deeglike opleiding wat tans uitgevoer word, want dit is baie belangrik dat korrekte data aangeteken en weergegee word. Hy sê die proses is arbeids- en tegnologies intensief om die kredietwaardigheid van die inligting te verhoog.
Die inligting sal vir die eerste ses maande van aanstaande jaar ingesamel en ingevoer word, en die uitslae word in November aanstaande jaar verwag.
Bron: Engineering News
13 Desember 2011