
"Ons haal asem," sê mnr. Thys Grobbelaar van die plaas Koringkloof by Eendekuil nadat hulle die nag van 2 Augustus 17 mm reën gekry het.
Die reën volg op 9 mm en 7 mm wat in die laaste twee weke van Julie geval het. Hulle is dankbaar vir wat elke bietjie reën beteken vir hul graan wat nog baie klein is.
Mnr. Anton Mouton van die plaas Piekenierskloof, Eendekuil, sê hulle het die tweede 15 mm gekry, en die graan is besig om goed te reageer op die vog. Plase by Eendekuil het tot dusver hierdie winter min reën gekry. Die gebied het ook verlede jaar ’n droogte beleef wat groot verliese meegebring het.
By Piketberg het mnr. Abri Richter van die plaas Panorama, 26 mm reën gemeet.
Overberg
Ná reën van 30 tot 50 mm gedurende die laaste week Julie by Caledon, en opvolgreën aan die begin van Augustus, lyk toestande daar ook beter.
Die 50 tot 60 mm reën wat Rietpoel aan die einde van Julie gekry het, is "ongekende genade", sê mnr. Leon Groenewald van die plaas Rietkuil. "Die mid-Rûens lyk mooi, en noudat die dae langer word, gaan ons binnekort ongelooflike veranderinge sien."
Nadat dit op 2 Augustus weer gereën het, is dit so nat, hy kan nie in die lande kom nie.
Hoewel die graan nie heeltemal gelyk is nie, is alles op tyd, en die gars baie mooi. "Die koring maak al baard en die kanola is vol in die blom."
Gesaaides lyk goed
Waar mnr. Maartin Gildenhuys van die plaas Goedemanskraal buite Heidelberg boer, lyk die gesaaides baie goed, maar bly die weidings traag. Hy het met die reën wat einde Julie wydverspreid geval het, 30 mm gekry, maar van sy bure het 50 tot 70 mm gekry. By Swellendam was boere wat veel meer gekry het.
Gildenhuys sê die kanola is voluit aan die blom by hulle. "Sommige van die kampe se kanola gooi al blomme af."
Hy sê die gars is mooi, en hoewel die koring vroeër in die seisoen swaargekry het, het dit goed herstel. Hulle het nog heelwat reën nodig voor oestyd.