Gautengse boere samel tans voedsel in om die gemeenskap van Duduza, naby Nigel, by te staan ná ’n tornado dié informele nedersetting die afgelope naweek getref het.
Me. Simphiwe Mtsweni, ’n koördineerder in Duduza, sê hulle is baie dankbaar vir die “baie goeie voorraad kos wat ons reeds van plaaslike boere ontvang het”.
Sy sê tans is sowat 200 gesinne dakloos. Dit is baie moeilik om te bepaal hoeveel mense hulp nodig het. “Baie van die mense se familie het hulle al kom haal om tydelik by hulle te gaan bly. Maar dié mense gaan terugkeer en ook hulp nodig kry.”
’n Groot klomp van die dakloses word in die gemeenskapsaal gehuisves, maar die saal is te klein om almal te akkommodeer. Volgens Mtsweni bestaan ’n groot behoefte ten opsigte van persoonlike higiëne, toiletpapier, handdoeke en komberse.
Hulp
Mnr. Dirk Hanekom, bestuurder van Agri Gauteng, sê hulle is ongelooflik dankbaar vir die skenkings wat reeds ontvang is.
“Vanoggend (4 Oktober 2011) is drie en ’n half ton se mieliemeel afgelaai, en ’n boer het ’n verdere 1 ton mielies, wat gemaal moet word, op ’n deurlopende grondslag beskikbaar gestel.”
Mnr. Chris Russouw se boerdery het ’n bakkievrag vol eiers na Duduza aangery, terwyl die Da Freitas-familie twee bakkievragte kool, asook radyse en wortels geskenk het.
Hanekom sê hulle is nie seker hoeveel kos die boere al geskenk het nie, en ’n opname word tans gedoen.
“Enigiemand wat nog skenkings wil maak, is baie welkom om my by tel. 012 643 3436 of by sel 082 313 0042 te bel. Ek sal met die gemeenskap koördineer om die skenkings by die behoeftiges te kry.”
Van die boere in die distrik Nigel het weens die tornado skade gely, “maar dié skade is lig vergeleke met die mense in Duduza se verlies,” vertel Hanekom. Van die vrugteboere in die omgewing het skade gely deurdat van hul bome beskadig is, terwyl ander se pakhuise en infrastruktuur beskadig is.
4 Oktober 2011