
Luidens Agri Wes-Kaap het die munisipaliteit die boere verlede week genader waarna hulle ingestem om vir 10 dae hul leibeurte aan die inwoners van dié dorp in die Klein-Karoo beskikbaar te stel, sê mnr. Ben Kotze, voorsitter van die Ladismith Landbouvereniging.
Hy sê produsente hoop om teen Vrydag ’n opvolgvergadering met die munisipaliteit te hê omdat dit onwaarskynlik is dat boere hulle leibeurte vir veel langer kan afstaan aangesiene opgaardamme vir besproeiing so te sê leeg is.
Die dorp se drinkwater skiet tekort na ondergemiddelde reënval en sneeu die afgelope winter, wat die JF Le Grange-dam voed. Dié dam loop nou leeg nadat watervloei uit die berg sedert Oktober 2014 afneem. Probleme met die damwal se struktuur het ook tot gevolg gehad dat die Departement van Waterwese sowat vyf jaar gelede besluit het dat die dam net tot 60% van sy kapasiteit vol kan wees.
Daar heers ook kommer oor hoe die waterkrisis die dorp se groot nywerhede – twee kaasfabrieke en ’n wynkelder – gaan raak. “Dit is van kritiese belang dat plaaslike owerhede hul administrasie só moet bestuur dat dit in belang van beide die plaas- en die dorpbewoner is,” sê mnr. Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap. Hy voeg by dat Wes-Kaapse produsente altyd bereid is om hulp te verleen waar dit benodig word.