
’n Gebied van 1 000 ha op en rondom die plaas van mnr. Ollie le Roux, oud-Springbokrugbyspeler, is beskikbaar gestel vir mnr. Angus Buchan se byeenkoms op 22 April. Le Roux het sy grond vir die diens beskikbaar gestel, en boere en hul werkers help om die gebied gereed te kry om die verwagte groot massa mense te huisves.
Buchan wil graag ’n miljoen mense saamtrek, maar hy sê hulle maak nou gereed “vir die tweede miljoen”. Boere het werktuie, brandstof en plaaswerkers gratis beskikbaar gestel om die terrein voor te berei sodat mense reeds dae lank voor die tyd daar kan kampeer om swaar verkeer vry te spring. Die Vrystaatse provinsiale verkeersdienste is betrek om die verkeer te laat vlot.
Buchan se seun, Andy, wat saam met hom boer, is in beheer van die logistiek. Daar gaan 37 toegangspunte na die verhoog wees waar Buchan die mense gaan toespreek. Buchan sê die geesdrif van Suid-Afrikaners en mense in buurlande is oorweldigend.
’n Trein wat mense vanaf Kaapstad gaan vervoer, is in ’n japtrap volbespreek en daar is sprake van ’n tweede trein. Busse gaan ook vanaf Stellenbosch vertrek. Van alle uithoeke van die land het mense reeds gesê hulle wil deel van hierdie grootste saamtrek wees om vir vrede in die land te bid.