
Mnr. Robert Davel, uitvoerende hoof van Mpumalanga Landbou, sê die organisasie het reeds September verlede jaar sy kommer oor die skerp toename in plaasmoorde in Mpumalanga uitgespreek.
Nog ’n boer is gister op sy plaas by Badfontein naby Lydenburg vermoor en ’n ander is op sy plaas in die distrik Ogies aangeval.
Davel sê die kollektiewe waarde van veiligheidstrukture op grondvlak is noodsaaklik in die private sektor se bydrae tot die bekamping van misdaad en die voorkoming van lewensverlies in die landbousektor.
“Ons produsente, ons plaaswerkers en hul gesinne hoef nie maklike teikens vir misdadigers te wees nie. Aktiewe inskakeling by die naaste veiligheidstruktuur plaas die individu se paraatheid onmiddellik op ’n hoër vlak en dra by tot die plaaslike gemeenskap se stryd teen misdaad.
“Mpumalanga Landbou se strukture maak ook voorsiening vir deelname van gemeenskapslede wat nie bona fide-landbouprodusente is nie.”
Hy meen dit wil voorkom of die owerheid nie oor die vermoë beskik om misdaad te bekamp nie.
“Mpumalanga Landbou ondersteun daarom regmatige en deursigtige pogings, deur die private sektor om veiligheid in ons landelike gebiede te verseker. Dank aan talle private sekuriteitsmaatskappye wat reeds ’n reuse-bydrae lewer tot veiligheid in die landbousektor.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.