
Tien kleinboere van die Wes-Kaap kom Donderdag teen die Theewaterskloof-munisipaliteit in die hof te staan weens ’n dispuut oor vee wat jare lank op meentgrond gewei het.
Dié boere se diere, hoofsaaklik bokke en perde, is verlede jaar deur die munisipaliteit geskut. Die munisipaliteit wil die diere nou verkoop.
Hoewel die boere die grond sonder ’n formele huurooreenkoms met die munisipaliteit gebruik het, beweer hulle hulle het mondelingse ooreenkomste oor die gebruik van die grond met verskeie munisipale amptenare aangegaan. Die munisipaliteit het ook waterpunte en genommerde krale vir hul gebruik opgerig.
Hof moet sê
Een van die boere, die 70-jarige mnr. Samuel Ndlumane van Riviersonderend, se diere wei reeds die afgelope 16 jaar op die plaaslike meentgrond.
Boere van Caledon, Greyton en Riviersonderend is by die aansoek betrokke. Die saak word op 19 Januarie 2017 in die hof op Caledon aangehoor.
’n Groep boere van Riviersonderend het ’n rekening ontvang van R524 800 wat betaal moet word voordat die munisipaliteit die diere sal teruggee. In Greyton het ’n groep kleinboere sowat 235 hektaar meentgrond vir weiding gebruik, maar hulle is in kennis gestel dat die munisipaliteit dié grond wil verkoop, terwyl vier boere van Greyton en Caledon die munisipaliteit probeer verhinder om van hul perde te verkoop.
Die trust vir die uitreiking na en opleiding van die gemeenskap (TCOE) ondersteun die boere met regshulp.