
Sluise van die Vaal-, Bloemhof- en Hazelmere-dam word vandag oopgemaak nadat swaar reën sedert gister dié damme se vlakke drasties laat styg het, sê die departement van water en sanitasie in ’n verklaring.
Die Vaaldam staan tans op 110,5%, die Bloemhofdam op 106,9% en die Hazelmere-dam noord van Durban, wat tans bouwerk ondergaan, se vlak het oornag gestyg tot bo 65%.
Die departement beskryf die situasie in KwaZulu-Natal as “kritiek” weens talle gelokaliseerde vloede. Hy sê die Hazelmeredam se vlak sal tot 53% of laer verminder word as “ ’n veiligheidsmaatreël terwyl die werk aan die gang is”, luidens ’n verklaring.
Twee sluise van die Vaaldam sou vandag oopgemaak word. Hidroloë beveel aan dat uitvloei uit die Bloemhofdam, wat stroomaf van die Vaaldam is, ook mettertyd verhoog word.
Invloei in die Vaaldamstelsel staan op 1 065,7 kubieke meter per sekonde. Die departement sou om 10:00 uitvloei uit die Bloemhofdam van 354,37 kubieke meter per sekonde (kumek) verhoog tot 500 kumek, en om 14:00 tot 600 kumek.
Mnr. Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, het ’n beroep gedoen op inwoners stroomaf van dié damme om weg te bly uit vloedgebiede en om enige toerusting te verwyder ten einde skade te voorkom.
‘Senuagtig’
Mnr. Jors van der Westhuizen, ’n boer van die distrik Grootdrink langs die Benede-Oranjerivier, sê die boere is “maar altyd senuagtig” wanneer hulle hoor die damme hoër op in die stelsel se sluise word oopgemaak. “Daar word tans verwag dat die rivier ’n vlak van 1 800 kumek gaan bereik, en ons hoop hy stoot nie hoër op nie. Ons bly op ons knieë in sulke situasies.”
Van der Westhuizen sê van die ouer lede van hul gemeenskap sê hulle het in 1974 laas so ’n somerreënseisoen beleef. “Op my plaas staan ek sedert November reeds op 502 mm reën, dis drie keer meer as die sowat 160 mm wat ons gewoonlik van November tot Maart kry.”
Die meeste van die 502 mm reën het in Januarie en Februarie voorgekom. Van der Westhuizen sê hulle het nie swaar neerslae gedurende April gehad nie.
Volgens Van der Westhuizen het wingerdboere in die omgewing redelik skade gely weens die nat toestande. “Ek skat daar is ’n verlies van 60% tot 70% in wyndruif- en rosyndruifwingerd. Ekself het 60% minder drag uit my wyndruif- en rosyndruifwingerd gehad. Die wingerde is amper kaal, want weens die nat toestande het donsige skimmel begin voorkom en weens die hoë pryse van gifstowwe kan ’n mens net soveel daarteen spuit.”