
Gerugte doen die ronde dat die brand wat sowat 60 000 ha veld in die Noord-Kaap afgebrand het, deur stakende mynwerkers op Kathu gestig is. Mnr. Johan van Rensburg, hoof uitvoerende beampte van Agri Noord-Kaap, sê die brand woed tans voort. “Dit het in die Kuruman Hills-bergreeks tussen Kuruman en Daniëlskuil inbeweeg, en dis onbegaanbare terrein. En die wind is blykbaar stormsterk.”
Volgens Van Rensburg is sowat 20 plase geraak, en hulle wil op nasionale vlak hulp vra aangesien die Vrystaat reeds vroeër vanjaar onder erge brande deurgeloop het en baie boere daar ook van hulp afhanklik is. Hy sê hulle het by die rampbestuurdienste op Kuruman om lugsteun aansoek gedoen. Dié versoek is na die Weermag verwys, wat nou moet besluit of helikopters beskikbaar is om boere by te staan om die brand te blus.
Benodigdhede
Agri Kuruman het intussen ’n versoek uitgestuur vir hulp. Boere het lusern nodig vir sowat 5 000 stuks vee, diesel, vragmotors en kontant. “Die organisasie het die vrymoedigheid om by u vir dringende hulp aan te klop. Enige bydrae sal gewaardeer word. Skakel gerus die kantoor by 053 712 3544.”
Me. Hettie du Plessis, verteenwoordiger van die Kathu Gazette, sê ligte reën het Maandagmiddag 8 Oktober 2012 op Kathu begin uitsak en hulle hoop dit sal help om die brand te blus. Die brand het op Donderdag 4 Oktober 2012 ontstaan, en kon teen Sondag 7 Oktober 2012 naby die Luhatla-weermagbasis onder beheer gebring word.
Belangstellendes kan ook ’n kontantbydrae vir boere op Kuruman in die volgende rekening deponeer:
Agri Kuruman
Absa taknommer: 334202
Rekeningnommer: 4056768781
Verwysing: Brand