
Drie boere van Schweizer-Reneke in Noordwes het 124 nuwe trekkers en drie selfaangedrewe gewasspuite teen sowat R95 miljoen gekoop.
Dit is moontlik die grootste enkele trekkertransaksie ter wêreld aan kommersiële boere. Sover bekend, was daar nog nie vantevore só ’n groot transaksie waarby ’n maatskappy – of selfs ’n regering – die koper was nie.
Die drie boere, mnre. Dirk Fourie, sy swaer, Pieter van Zyl, en dié se seun, PG, het elk hul eie boerdery, maar hulle doen aankope van produksiemiddele saam om ’n beter prys te beding. Dít het hulle gedoen toe hulle die Case-trekkers en gewasspuite by Northmec gekoop het.
Boere koop saam
Die transaksie het bestaan uit 29 Magnum 340-trekkers wat 250 kilowatt lewer, 50 MX Maxxum 125-trekkers wat 93 kW lewer en 45 JX 95-trekkers wat 72 kW lewer, asook drie selfaangedrewe gewasspuite. Pieter van Zyl het op die amptelike oorhandiging namens die boere aan Landbouweekblad gesê hulle koop al lank saam.
Sowat tien jaar gelede was hul transaksie vir 35 nuwe Case-trekkers ook die grootste in die geskiedenis. Al drie boerderye is hoofsaaklik op mielieproduksie toegespits, maar hulle verbou ook sonneblomme en grondbone in hul wisselboustelsel.
Hulle bewerk saam sowat 18 000 ha grond. Hulle het vanjaar vanaf ’n sesryna ’n agtry-bewerkingstelsel met die mielies oorgeskakel. Daardeur bespaar hulle arbeid Die nuwer tegnologie werk suiniger met diesel en onkruid word doeltreffender bestry.
Besparing
Hulle het ook die rywydte vir al drie gewasse op 0,91 meter (drie voet) gestandaardiseer en al hul werktuie verander om daarby aan te pas, wat ’n groot besparing aan arbeid teweegbring. Voorheen is die mielies in rye van 1,8 meter (ses voet) en die sonneblomme en grondbone in rye van drie voet geplant.
Van Zyl het die nuwe trekkers as dubbeldoeltrekkers beskryf, want hulle het weggedoen met reusagtige trekkers wat hoofsaaklik vir grondbewerking gebruik word. Die nuwe trekkers word vir meer take aangewend en word dus doeltreffender benut.
Mnre. Paul Viljoen en Kobus Olwagen, onderskeidelik bemarkingsdirekteur en stroperspesialis van Northmec, sê hulle het ’n nuwe takkantoor met ’n werkswinkel op die dorp geopen om seker te maak die boere kry die beste diens.
3 Februarie 2012