
Wes-Kaapse boere is benoud oor die droogte en hoe klimaatsverandering hulle uitlewer aan rampe soos brande, wat hierdie jaar absolute vernietiging in die Wes-Kaap gesaai het, het mnr. Cornie Swart in sy voorsittersrede op Agri Wes-Kaap se kongres gesê.
“Ons bekommer ons oor wat korrupsie en staatskaping vir die toekoms van ons besighede inhou. Wanneer die branders oor ons koppe breek, skarrel ons paniekerig om ons te skaar by diegene wie die meeste lawaai maak. Want ons glo lawaai beteken dat jy iets bereik. Lawaai is net lawaai. Dis al.
“Wat uitdagings doen, is om ons te laat voel asof ons gemaksone uit sy skarniere geskud word. Want alles het reg geloop; en skielik op ’n dag wil iemand my grond vat; of ’n droogte tref my; of daar word van my verwag om lone te betaal wat nie deur die produktiwiteit of uitset op my plaas geregverdig word nie.”
Planne gemaak maar niks gebeur
Swart het gesê niemand kan die Regering daarvan beskuldig dat hy nie planne kan skryf nie.
“Maar hoekom het die strategiese landbouplan nie van die grond af gekom nie? Hoekom kom die Nasionale Ontwikkelingsplan nie van die grond af nie? Ek vermoed, en ek mag totaal verkeerd wees, dat die gebrek aan visie aan die kant van die implementeerders, die plan-skrywers se beste intensies tot niet maak. Ernstige debat is nodig oor hoe om beleid te verander om Suid-Afrika ekonomies aanloklik te maak.
“Ons het ’n regering wat nie die sprong kan maak van struggle-mode na ekonomiese groei-mode nie. Ons is in struggle-mode met inkomsteverskille. Ons is in struggle-mode met vaardigheidsontwikkeling. Ons is in struggle-mode met almal in die land se veiligheid.”
Ewige stryd
“Ons is in struggle-mode met infrastruktuur-ontwikkeling en instandhouding. Ons is in struggle-mode met geen waterplan in sig vir Suid-Afrika nie. Ons is in struggle-mode met ’n regering wat óf nie kundig is nie, óf nie die wil het om die land na die volgende vlak te neem nie. Ons is in struggle-mode met krediet-afgraderings; en met korrupsie; en met staatskaping.
“Die landbou struggle met leë beloftes van regeringsondersteuning. Dit is nou die tyd dat die landbou sy merk maak. Dit is nou tyd vir die landbou om die merk wat hy al klaar gemaak het, te herbevestig. En as swaargewig-rolspelers moet ons die Regering beïnvloed om die positiewe veranderings te maak wat kardinaal belangrik is vir belegging en groei. Ons moet ons merk maak om die Regering op sy tone te hou.
“Ons moet ons merk maak om die landbou as fondament van die platteland sterk te hou. Ons moet ’n merk namens die inwoners van ons landelike gemeenskappe wat droom van ‘n werk op die platteland,” het hy gesê.