
Die slagspreuk is dan ook kort en kragtig: Ongeag.
Hy het gesê boere wat planne voorgestel het om van grondhervorming ’n sukses te maak, is oor die jare heen “verskeie kere in die tande geskop” deur die regering. Dit het boere “vuisvoos” gemaak, maar ongeag die terugslae is hulle steeds betrokke by landelike opheffing.
“Vrystaat Landbou se klem is op landelike en landbou-ontwikkeling. Ons het besluit transformasie en grondhervorming moet ons saamvat in een woord: landbou-ontwikkeling; van die hele sektor.”
Wat die struikelblokke betref, het Wilken gesê weens die staat se verkrummeling moet boere ál meer verantwoordelikhede aanvaar. “Ons moet opstaan, anders verkrummel ons saam.”
Hy het onder meer genoem dat die regering nie sy demokratiese rol vervul deur ’n veilige omgewing te skep waarin ondernemings (ook die landbou) kan floreer nie. Hy onderhou nie infrastruktuur nie, sien nie toe dat daar genoeg energie is nie en hou selfs nie biosekerheid in stand nie. “Ons staat het sy wins op die verkeerde plek probeer maak: Pleks daarvan om die ekonomie te laat floreer, het hy probeer geld maak uit die dienste wat hy en sy staatsinstellings moes lewer.”
Suid-Afrika het ’n baie sterk burgerlike samelewing opgebou en in verskeie organisasies op alle vlakke in die samelewing is gewone landsburgers besig om oor te neem om te doen wat staat veronderstel is om te doen. Dit, het Wilken gesê, het die staat laat besef dat die realiteit hom inhaal. “Hy vra vir hulp, al is dit teen sy ideologie. Julle het gesien wat gebeur met Eskom. Dis net jammer ons word eers gedwing om die prys van die staat se mislukking te betaal voordat hy erken hy het nie die vermoë om iets te doen nie.”
Titelaktes
Wilken het weer ’n pleidooi gelewer dat swart boere titelaktes van hul grond kry, anders sal grondhervorming misluk. Hy het verwys na die voorbeeld waar ’n groep plaaswerkers van Smithfield danksy mnr. Eddie Prinsloo bemagtig is deur sy een plaas ingevolge die Wet op Sekerheid van Verblyfreg (Wet 62 van 1997) aan hulle te verkoop. Prinsloo het daarop aangedring dat hulle titelakte moet kry en nie die grond huur nie.
“Dis die pad wat ons moet loop. Daardie mense wil met ons saamwerk en hulle het ons hand van ondersteuning nodig.”
In Suid-Afrika het belanghebbendes in die landbou nie meer die gerief om teen mekaar te trek nie, het Wilken gesê. “Ons enigste vyand is armoede en werkloosheid. Jy kan nie rustig gaan slaap as jou buurman honger is nie, dit moet jy verstaan.”
Hy het gesê as boere nie geglo het daar is ’n oplossing vir die probleme nie, was hulle al weg. “Maar as jy dink daar is oplossing, doen dit. Ons is daar om jou te ondersteun.”