
’n Beslissing van die Grondeisehof dat die staat minder as markwaarde mag betaal vir ’n stuk grond wat aan ’n huurarbeider toegeken is, gaan teengestaan word nadat verlof toegestaan is aan twee Mpumalanga-boere om daarteen te appelleer.
Mnre. Johan en Dirk Uys van die Middelburg-omgewing se regsverteenwoordiger, mnr. Danie Schutte, sê hulle is besig om die oorkonde en hofstukke gereed te kry vir inhandiging by die Appèlhof. Vroeër het mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, gesê Agri SA is ook van voorneme om as amicus curiae (vriend van die hof) tot die saak toe te tree. “Agri SA oorweeg hul opsies oor toetrede en hulle regspan sal seker mettertyd hulle voorneme bekend maak,” sê Schutte.
Grond se landbouwaarde
In die rigtinggewende uitspraak van waarnemende regter Tembeka Ncgukaitobi in die grondeisesaak het hy in Julie verlede jaar beslis die staat hoef net meer as 80% van die grond se landbouwaarde aan mnre. Johan en Dirk Uys te betaal. Dié bedrag van R1,5 miljoen is maar 34% van die R4,36 miljoen wat ’n waardeerder vroeër bevind het die grond werd is.
Die waardeerder se waardasie was gegrond op die ontwikkelingswaarde van die grond in ’n woongebied. Ngcukaitobi het egter bevind dat die staat nie die moontlikheid van ’n woonbuurt-ontwikkeling in ag kan neem nie en die waarde net op huidige landbougebruik bepaal moet word. Dit was R1,8 miljoen vir die 45,86 ha grond.
Grond in woongebied
Daarby het hy die bedrag nog op grond van beginsels van billikheid en regverdigheid tot R1,5 miljoen verminder. Hy het gesê ’n balans moet tussen die belange van die private grondeienaar en die openbare belang gevind word.
Die eis is al meer as 20 jaar gelede ingedien en die dispuut oor die waarde duur al 12 jaar. Die Uys-pa en -seun voer aan die hof moes bevind het die markwaarde van die grond is R4,6 miljoen en dít as beginpunt gebruik het om die vergoedingsbedrag te bepaal. Hulle betwis ook die feit dat die regter ’n verdere R300 000 afgetrek het nadat hy besluit het die markwaarde is R1,8 miljoen.
Hulle voer ook aan die hof het nie hul eiendomsregte kragtens die Grondwet beskerm nie, en ook nie die waarborg tot regverdige en billike vergoeding nie. n Verhoordatum sal bepaal word nadat alle hofstukke ingedien is.